NEW CHORAL MUSIC FOR SOUTH AFRICA
“WEGGEWERP” (2019-2020)
Siklus van toonsettings van Afrikaanse poësie vir gemengde koor a cappella
Composed by Hans Huyssen
Commissioned by the SAMRO Foundation
Requested by VOX Cape Town
Weggewerp is the title of a cycle of settings of four Afrikaans poems composed by Hans Huyssen. It was initially inspired by a poem, scribbled on the walls of an abandoned Karoo cottage, that was discovered by Derek McKenzie. We hope to give the first live performance of this work at our Karoo-inspired concerts over the weekend of 13 to 15 October 2023. In the meantime, we invite you to enjoy our Virtual VOX project of the final movement of the work, Gebed, recorded in 2020.
Tekste
1.
Wie sing?
Wie loop? Dis die haas, dis die hond, dis die wind,
dis die water bly en welgesind.
Wie sing? Dis die sysie, die riet, die sleutelgat,
en my hart wat sing en sing soos ‘n kind.
W. E. G. Louw
uit Bybels en Babels, 1956
2.
Te snel die vlug
O vlugtige lewe, ek gryp na jou,
en wil jou vasvang met my word,
dat jy vir altyd klink in my
en sing tot aan die slotakkord.
Maar jy’s soos dou, soos sneeukristalle,
soos mis wat sleep oor môrelande;
wanneer ek gryp, dan smelt jy weg,
en staan ek weer met leë hande.
Jy’s soos die weerklank in die berge,
soos wind en silwer waterkringe –
te snel, te snel, o woord, o hart,
die vlug van alle skone dinge.
W. E. G. Louw
uit Bybels en Babels, 1956
3.
Ek is slapeloos
en het geword soos
‘n eensame voël op die dak.
Die hele dag smaad my vyande my.
Die wat teen my raas
gebruik my naam as ‘n vloek
want ek eet as soos brood
en meng my drank met trane
vanwee u grimmigheid en u toorn.
Want u het weggewerp
maar u bly dieselfde
en u jare het geen einde
tot dood.
Anoniem
4.
Gee vrede en rus vir ons almal wat lam is van swerwe,
Moed en geduld vir ons almal wat bang is vir sterwe;
Gee vir ons hart, soos in somer die sap vir die bome;
Gee vir ons krag vir die werk en verstand vir die drome;
Gee dat ons lag as die lewenslas druk op ons harte;
Gee vir ons hoop in die donkerste nagte en smarte;
Gee vrede en rus vir ons almal wat lewe en erwe
Smart en verdriet, met die reg om uiteind’lik te sterwe!
Gee vrede en rus! En ons vra nie iets anders, en luister
Stil na die wind wat so sag in ons ore kom fluister:
“Moed, mense, hou moed:
Die kwaad sal verander in goed –
Die môrelig kom uit die duister!”
C. Louis Leipoldt
XCIII uit Slampamperliedjies, 1944